Die naarheid was toe nie swangerskap nie, maar kanker. Nege maande later het hy nie by ‘n wiegie gestaan nie, maar by ‘n reghoekige gat in die grond. Die jong leraar was egter ‘n voorbeeld van geloofstandvastigheid. Tot op ‘n dag, toe hy gevou het. En toe, op sy gesondwordvakansie op ‘n idilliese eiland, verskyn ‘n engel aan hom. Nie ‘n vlerkflap, Kinderbybel-engel nie, maar ‘n vrou met ‘n hemelse lyf, ‘n heerlike humorsin en ‘n hart van goud en hy ontvang die beste kersgeskenk wat ‘n man ooit kan kry. Die dag na Kersfees, was egter die dag van die Tsoenami, toe die see sy humeur verloor het en die land so sleg aangerand het. Sal Jean Joubert sy reddingsengel in die natuurramp verloor? Sal sy tragedie verdiep en hy twee traumas in een jaar beleef? En as hy haar ooit weer sou vind en haar Krugersdorp toe sou bring, sou hulle die kultuur-tsoenami kon oorleef? Sy is immers nie Afrikaans nie, maar Brits-Engels. Sy is ook nie wit nie. En sy is nie ‘n christen nie. En dan is daar nog ook die voorttierende misdaadgolf in Suid-Afrika…
↧